Jáhoe maak die aarde

Photobucket

Wat volg is die verhaal van die hemel en die aarde in die skepping van hul dae:

Magtige Jáhoe het die aarde en die hemel gemaak.

Dit was voordat die bossies van die veld op die aarde was en voordat enige van plante van die veld ontspring het, want Magtige Jáhoe het dit nie op die aarde laat reën nie en daar was niemand om die aarde te bewerk nie.

’n Stroompie het vanuit die aarde ontspring en die hele aangesig van die aarde natgelei.

Magtige Jáhoe het die mens gevorm – die stof van die aarde. Hy het die asem van die lewe in sy neusgate geblaas. En die mens was ’n lewende wese.

Magtige Jáhoe het ’n vreugdetuin in die ooste geplant en daar het hy die mens geplaas wat hy gemaak het. En vanuit die aarde het Magtige Jáhoe al die bome laat ontstaan wat die oog vreugde gee. En die kos was goed.

Die boom van die lewe was in die middel van die tuin. Dit was die boom van kennis van die goeie en bose.

***

Jáhoe kry deesdae ’n klem op die a. Dit is maar ’n manier om te probeer keer dat mense te veel klem op die tweede deel van sy naam plaas. Mens spreek dit uit JAhoe, nie JaHOE nie. Dink aan die uitspraak in name soos Benyamin NetanYAhu.

Vergun my: Jáhoe het die bome geskep. “En die kos was goed.” Die skeppingsorde van die Jahwis was ‘n planteryk waar daar geen vleisetery was nie. En dit was goed. Die J-narratief skop af met ’n goeie regverdiging van vegetarisme! Nou hoekom is vegetarisme nie op die tafel in die Christendom en Judaïsme nie?

Ek het besluit om nie elke sin met “En …” te begin nie, al is dit die styl van Ou Hebreeus en al is van die ou vertalings nog so gedoen. Vir die eerste paar reëls klink dit in Afrikaans sjarmant, maar later begin dit te pla. (Ek verwys ook nie hier na Bybelse Hebreeus nie. Die term hinder my nie regtig nie, maar daar is tog ook veel meer as die Bybel in Ou Hebreeus geskryf.)

Die heel laaste sin is ’n raaisel. Dit val sommer net daar uit sonder tweede werkwoord of selfs geimpliseerde tweede werkwoord. Letterlik lei dit as volg: “Die boom van die lewe was in die middel van die tuin en die boom van kennis van goed en bose.” Wat sê die skrywer? Dat die boom van lewe en die boom van kennis van die goeie en bose albei in die middel van die tuin was? Die meeste vertalers vertaal dit so, maar ek sien dit nie in die Hebreeus nie. Daarom het die “was” as ’n geïmpliseerde werkwoord hanteer. Ek weet nie hoe dit die res van die verhaal sal beïnvloed as mense die bome van onderskeidelik lewe, en kennis van goed en bose as dieselfde boom beskou nie. Ons sal sien.

 

14 Responses to “Jáhoe maak die aarde”

  1. Mr WordPress Says:

    Hi, this is a comment.
    To delete a comment, just log in, and view the posts’ comments, there you will have the option to edit or delete them.

  2. mnr.muller Says:

    Dankie hiervoor!

    Ek sien uit na jou vertaling en vertolking, omdat dit vir my ‘n vars perspektief gee op ‘n geykte teks.

  3. freddy Says:

    Ja, hoe bly is ons nie die projek staan op uit die dood nie. Dit was wel bietjie langer as drie dae.

    Net vir die rekord: vegetarisme, groen teologie en ekologie IS nogal op die tafel (ha! goeie een, ne?) van die teologie. Dis net nie deel van die breër en gewilder Christendom nie. (“-dom” verwys nie na intelligensie nie, maar oorheersing en regering.)

  4. freddy Says:

    !! comment awaiting moderation?? What is going on here?

  5. Bertus! Says:

    Freddy, noudat ons dit op die tafel het, kom ons praat. Vraag: Kan mens sowel vleiseter as (goeie) Christen/Jood wees?

  6. Johan Swarts Says:

    Ek’s nuuskierig oor jou beskrywing hiervan as ‘n “idiosinkratiese” vertaling. Beteken dit jy interpreteer die tekste aan die hand van jou eie ervaringe?

  7. Bertus! Says:

    Johan, ek het nogal gewonder wat om dit te noem. Laas het ek dit ‘n letterlike vertaling genoem, maar dit het my style so bietjie gecramp. Nou doen ek die vertaling volgens geen vertaalfilosofie – ek doen dit net soos ek dink interessant is om te speel met moontlikhede en te sien wat mens alles binne aanvaarbare grense met die teks kan aanvang.

  8. freddy Says:

    Ek dink dis ‘n kwessie van “weet”. Terwyl ons dan nou ook gesels oor die boom van kennis…

    As ek nie weet dat die klere wat ek koop deur slawekinders gemaak is nie, is ek tog nie bad nie.

    As ek WEET die klere is deur slawekinders gemaak en ek worry nog steeds nie en koop dit dan, verander dit tog sekerlik die saak?

  9. Bertus! Says:

    Verander dit enigiets vir die slawekinders of jy daarvan weet of nie?

  10. Bertus! Says:

    In retrospek moet ek van jou een comment verskil Freddy. Ekologie is wel op die tafel van die kerk, maar ek het nog nie gehoor dat vegetarisme ooit in ‘n kerk of teologiefakulteit eens bespreek word nie. En soos jy weet, wanneer ek nie in die kerk is nie, is ek gewoonlik in die teologiese fakulteit.

  11. freddy Says:

    Natuurlik verander dit niks vir die slawekinders nie. Hoe is dit relevant?

    T.o.v. jou tweede opmerking: Jy is reg. Ek was in die fakulteit met ‘n paar mense in gesprek daaroor, maar dit was nie amptelike besprekings in klasverband nie.

    • freddy Says:

      Dit verander niks vir die slawekinders nie, maar dit gaan wel maak dat ek die produk nie koop nie. Ek kan nie oorvlieg en die slawekinders gaan red nie.

      Net so gaan dit nie die lewe van hoendertjies verbeter of ek van hulle lyding weet of nie weet nie. En tog gaan ek dan nie die produk koop nie.

    • Bertus! Says:

      Freddy, nou het jy my vreeslik nuuskierig gemaak. Ek sal baie graag wil hoor wat jul gesprekke oor vegetarisme behels het.

      Ek onthou nou – Scully se Dominion – die belangrikste teologiese werk wat in die laaste tien jaar verskyn het – gaan grotendeels oor vegetarisme. Onvergeeflik dat ek daarvan vergeet het.

  12. freddy Says:

    Ah! Jy sal ‘n goeie groep-fasiliteerder wees. Hou die kennis terug in die hoop dat iemand anders wel daarmee vorendag kom. Dan kan jy interessante vrae tussendeur gooi om die gesprek en vordering te laat vloei sonder om betrokke te raak. Behalwe wanneer die groep vashaak, dan help jy hulle met inligting.

    😀 Terg jou. Maar tog glo ek steeds jy’s ‘n goeie fasiliteerder.

Lewer kommentaar op Johan Swarts Kanselleer antwoord