Die seuns van die gode en dogters van die mens

Oktober 24, 2010

Photobucket

Dit was toe dat die mense begin het om ‘n menigte op die aarde te word. Hulle dogters het vir hulle kinders gekry.

Die seuns van die gode het gesien die dogters van die mens is goed en het van dié dogters vir hulle as vroue geneem, nes hulle wou.

“My gees sal nie vir altyd by die mens bly nie,” het Jáhoe toe gesê. “Hy is vlees en sal net honderd-en-twintig jaar oud word.”

Die reuse was in dié tyd op die aarde en so ook hul afstammelinge. Die seuns van die gode het na die dogters van die mens gegaan en die vroue vir hulle gevat.

Hulle was die magtige krygers van die antieke tyd, manne van naam.

***

Die stuk is in ‘n opvallende (en grammatikaal vrek moeilike Hebreeus geskryf) wat in styl nogal verskil van die Hebreeus van die tekste rondom dit – ‘n aanduiding sou ek meen dat dit ‘n baie ou teks is, selfs ouer as die meeste tekste waartussen dit in die Pentateug opgeneem is

Onder sommige Judeërs van die Tweede Tempeltydperk sou daar die idee ontstaan dat hierdie voorval die eintlike sondeval is en dat die verderf hierdeur die wêreld ingekom het. In van die Joodse Gnostiese tekste en ook van die apokaliptiese tekste word heelwat aandag aan die voorval gegee – daar word vertel die seuns van die gode het vir mense metaalwerk en allerlei ander kunste geleer wat hulle van hul onskuld beroof het en oorlog die wêreld ingebring het. ‘n Prometheus-tipe teks.

Mens kom in uit Jáhoe se woorde agter hy is kwaad vir die mens oor die fraternisering met die seuns van die gode, maar hy sê nie hoekom dit hom so kwaad gemaak het nie.

Wie is die magtige krygers in die voorlaaste paragraaf? Die seuns van die gode of die reuse? Dit lyk dubbelsinnig, maar dit kan ook wees dat my Hebreeus my in die steek laat.

‘n Nota oor die heel eerste lyn: Die mens se dogters het vir hom kinders voortgebring, staan daar. Broeikaste!
Advertisements

Smid se mense

September 6, 2010

Photobucket

Smid het die aangesig van Jáhoe verlaat en in die land van Nod, oos van die plesiertuin, gaan woon. Hy het by sy vrou geslaap en sy het swanger geword. Sy het Henog voortgebring.

Smid was ’n stadsbouer en hy het die stad na sy seun Henog genoem.

Henog het Irad verwek. Irad het Mehoejael verwek. Mehoejael het Metoesjael verwek. Metoesjael het Lameg verwek.

Lameg het vir hom twee vroue gevat. Die eerste se naam was Ada en die tweede se naam was Tsilla. Ada het Jabel voortgebring – hy was die vader van die tentbewoners en veewagters. Sy broer se naam was Joebal – hy was die vader van almal wat snaar- en blaasinstrumente speel. Tsilla het op haar beurt vir Toebal-Smid voortgebring, die maker van al die koper- en ysterbeitels. Die suster van Toebal-Smid was Naäma.

Lameg het vir sy vroue, Ada en Tsilla, gesê, “Luister na my stem, vroue van Lameg! Hoor my woorde, want ek is ’n man! Ek sal die een wat my wond doodmaak, ’n jong man as hy my wond. Soos Smid sewe keer gewreek is, sal Lameg sewe-en-sewentig keer gewreek word.”

Die Mens het weer by sy vrou geslaap. Sy het ’n seun voortgebring en sy het hom die naam Gegun gegee, want “God het my ’n nuwe nageslag gegun in die plek van Herder, wat deur Smid vermoor is.”

Gegun het ook ’n seun verwek en hom die naam Enos gegee.

***

Die meeste mense wat hier genoem word, was waarskynlik figure uit langer, ouer stories wat nie meer onthou word nie. So vir ons wat dit nou lees is dit nogal vreemd. Eintlik net ’n vae leidraad van baie ou, vergete legendes.

Smid

September 2, 2010

Photobucket

Die Mens het by sy vrou, Lewe, geslaap. Sy het aan Smid geboorte geskenk.

“Nes Jáhoe het ek het ’n man gemaak,” het sy gesê.

Daarna het sy ook aan Smid se broer, Herder, geboorte geskenk. Herder was ’n skaapwagter en Smid het die aarde bewerk.

Lank daarna het Smid uit sy oeste van die landerye ’n offer aan Jáhoe byeengebring. En Herder het van die eersgeborenes van sy kudde gebring, van sy beste. Jáhoe het Herder en sy offer aanvaar, maar vir Smid en sy offer het hy nie aanvaar nie.

Smid was baie kwaad en sy gesig het gehang. “Vir wat is jy kwaad?” het Jáhoe gevra. “En vir wat hang jou gesig? Is dit nie so dat jy verhef sal word indien jy goed doen, maar dat die sonde by die deur sal wag indien jy nie doen wat reg is nie? Sonde hunker na jou. Jy is die meester van sonde.”

Toe het Smid vir Herder, sy broer, gesê, “Kom ons gaan veld toe.” Hy het Herder, sy broer, aangeval en hom doodgemaak.

Jáhoe het vir Smid gesê, “Waar is jou broer, Herder?”

“Ek weet nie?” het Smid geantwoord. “Is ek die oppasser van dié broer van ons?”

“Wat het jy gedoen?” het Jáhoe gevra. “Die stem van jou broer se bloed roep na my vanuit die aarde. Jy word vervloek deur die einste aarde waarvan die mond oopgebars het om jou broer se bloed vanuit jou hand op te slurp. Die aarde sal nie meer vir jou ’n oes lewer wanneer jy dit bewerk nie. Jy sal rigtingloos en treurig in die land wees.”

“My sonde is te groot om te dra,” het Smid Jáhoe geantwoord. “Verban U my vandag van die aangesig van die aarde én sal ek versteek wees van u aangesig? Ek sal ’n treurige swerwer in die land wees. Enigeen wat my teëkom, sal my doodmaak.”

Maar Jáhoe het vir Smid gesê, “Sowaar, enigeen wat vir Smid doodmaak, sal sewe keer wraak ervaar.”

Jáhoe het ’n merk op Smid gesit om te keer dat hy deur enigiemand wat hom vind, doodgemaak word.

***

Die stamme QJN en ‘BL (meestal vertaal Kain en Abel) is in talle ou Semitiese tale Smid en Herder. Ek kon egter nie enige aanduiding vind dat hulle ook in ou Hebreeus daardie betekenis het nie, so ons het waarskynlik hier te doen met ’n verhaal wat veel ouer as die Hebreeuse kanon was en waarvan die twee karakters se titels oorvertel is totdat die oorspronklike betekenis daarvan vergeet is en dit in die tekste beland het van ’n stam (die Hebreërs wat dit by die ander geërf het. ’n Aanduiding dat die Hebreërs al die oorspronklike betekenis van die name vergeet het, lê daarin dat Smid nie eens meer in die storie ’n smid is nie, hy het intussen ’n bewerker van die aarde (waarskynlik graanboer) geword.

So hier het ons ’n primitiewe verhaal oor argetipes – die Mens en sy Vrou kry twee kinders, een verteenwoordig boerdery en een die moderner stedelike kunste. ’n Stryd ontstaan. Jáhoe se simpatie is duidelik by die boer, maar die beskawing, wat wreed en sterk is, maak die boer uiteindelik dood.

Rigtingloos en treurig swerf Smid nou verder.

O, ’n nota oor seks: In die Hebreeus, soos in sommige ou vertalings, lees ons die Mens het sy vrou “geken”. Dit beteken natuurlik seks. Ek het dit eers so gehou, dit het oulik geklink, maar toe besef ek dit sal een van daai letterlike vertalings wees wat mettertyd irriterend raak. “Gemeenskap” en “omgang” klink te outyds, “seks” klink te klinies, so nou het hulle maar “saamgeslaap”.

‘n Nuwe lewe

September 1, 2010

Photobucket

Die Mens het sy vrou die naam Lewe gegee, want sy was die moeder van alles wat lewe.

Magtige Jáhoe het vir die Mens en sy vrou klere van leer gemaak en hulle aangetrek.

En Magtige Jáhoe het gesê, “So het die mens nou soos een van ons geword wat goed en kwaad ken. Hy moet nie nou ook sy hand uitsteek en van die boom van die lewe eet nie, want dan sal hy soos ’n Onsterflike wees.”

Magtige Jáhoe het die Mens uit die plesiertuin weggestuur om die grond te gaan bewerk waaruit hy geneem is. Hy het die Mens uitgedryf en in die ooste van die plesiertuin het Hy ’n gerub met ’n tollende, vlammende swaard laat woon om die pad na die boom van die lewe te bewaak.

***

Die foto heelbo is van ’n figuur uit die klipkuns van Indonesië se Hindoetydperk wat ek op Java afgeneem het, maar lyk dit nie effentjies soos ’n gerub nie? As ek Erik von Danniken was, sou ek beslis iets hieruit afgelei het.

Daar waar Jáhoe die mense se klere vir hulle aantrek nadat hy dit gemaak het: Dit laat mens so bietjie dink aan ’n sorgsame ouer wat sy kinders aantrek voordat hy hulle uit die huis stuur om die wrede ou wêreld aan te durf, heel aandoenlik.

Maar eintlik lyk dit steeds asof Jáhoe spyt is die mens het deur sy dreigement gesien en die vrugte van kennis geëet. Dit lyk asof die mens nou vir Jáhoe ’n bedreiging geword het – hulle het inderdaad nes die slang belowe het die vermoë bekom om goed en kwaad te ken, en daarom moet Jáhoe hulle wegstuur voordat dinge verder hand uit ruk.

Uit die derde paragraaf – dit lyk my ek was verkeerd in my vroeëre vertaling waar ek dit laat klink het of die boom van goed en kwaad en die boom van die lewe een en dieselfde boom was, want hier onderskei Jáhoe duidelik tussen die twee.

Wie is die Onsterflikes waarvan hier gepraat word? Dalk een van die Hemelse Raad? Ons gaan later meer oor hulle gesels. Maar die woord Onsterflike is hier ‘n selfstandige naamwoord en nie ‘n byvoeglike naamwoord, soos in die meeste vertalings wat dit een (“onsterflik” of “hy sal vir ewig lewe”) maak nie.

Willie Esterhuyse skryf in sy jongste boek Die God van Genesis dat dié teks volgens sommige mense ’n metafoor is vir die trauma wat ’n gemeenskap deurgegaan het toe hulle vanuit ’n jag-en-versamel-stand tot ’n agrariese fase ontwikkel het. Volgens so ’n argument sou mense ’n oer-herinnering aan dié ontwrigting oorgehou het en dit sou uiteindelik gelei het tot mites wat van geslag tot geslag omvorm is totdat dit die verhaal oor die verdrywing uit die plesiertuin geword het. Self vind ek dit nie baie oortuigend nie – dié teks is opgeteken op die vroegte sowat 2000 jaar nadat mense in die Nabye Ooste landbou begin beoefen het. Maar dalk oortuig die teorie jou.

Die vloek van Jáhoe

Augustus 30, 2010

Photobucket

Jáhoe het vir die slang gesê, “Ná dít wat jy gedoen het, is jy vervloek onder al die wilde diere en al die diere van die veld. Seil op jou pens en vreet stof vir die res van jou lewe! Ek sal vyandskap tussen jou en die vrou stel, tussen jou afstammelinge en hare. Haar nageslag sal jou kop verbrysel en jy sal hulle aan die hakskeen pik.”

Vir die vrou het Hy gesê, “Ek sal jou lyding erg laat vermeerder wanneer jy kraam. Jy sal in pyn aan kinders geboorte gee. Jy sal na jou man hunker en hy sal oor jou heers.”

Vir die man het Hy gesê, “Aangesien jy na die stem van jou vrou geluister het en van die boom geëet het wat ek jou verbied het, is die aarde deur jou te doen vervloek. Jy sal vir die res van jou lewe met harde arbeid van die aarde af eet. Die grond sal vir jou dorings en dubbels oplewer en jy sal die gras van die veld eet. Eet jou brood met sweet op jou gesig!

“Só sal dit gaan totdat jy terugkeer na die grond, want uit die grond is jy gehaal. Jy self is grond en tot grond sal jy terugkeer.”

***

Waar Jáhoe vir die slang sê “seil op jou pens” word dit dikwels as ’n voorspelling vertaal, maar dis eintlik ’n opdrag (as ek die grammatika reg verstaan). “Seil op pens en vreet stof!”

Ek het ook die nageslag wat die slang se kop sal verbrysel as ’n meervoud vertaal. In die Hebreeus is dit wel enkelvoud (“hy sal jou kop verbrysel”), maar ek dink dit is net omdat nageslag in Hebreeus ’n enkelvoud persoonlike voornaam vat. In Afrikaans gebruik mens die meervoud persoonlike voornaamwoord vir nageslag. (Die feit dat mense dit dikwels as enkelvoud vertaal, laat baie mense verkeerdelik dink dat hierdie ’n voorspelling oor Jesus Christus is.)

In Hebreeus is die woorde vir verbrysel en byt dieselfde. So as Jáhoe vir die slang sê “hulle sal jou kop verbrysel en jy sal hulle aan die hakskeen pik”, dan is daar ’n woordspelingtjie wat mens ongelukkig nie kan vertaal nie.

Daar is baie sinne in dié stuk met omgekeerde woordordes – dit is hoekom dit dikwels in versvorm vertaal word. Vermoedelik was dit eens ’n lied – dalk iets wat mense gesing het as hulle wou besin oor hoe swaar die lewe is (soos die blues).

Seksiste is ook darem stupid. Hier sê Jáhoe dat die man oor die vrou sal heers, en baie mense lees die vers as ’n opdrag dat mans oor vroue moet regeer. Maar dis nie ’n opdrag nie, dis ’n vloek. Ons kan nie die stuk lees as ’n opdrag dat ons op slange se koppe moet trap of dat vroue met soveel pyn as moontlik moet kraam nie – net so min kan ons dit lees as Jáhoe se opdrag dat mans oor vroue moet regeer.

“Waar is jy?”

Augustus 25, 2010

Photobucket

In die skemer het die mens en sy vrou Magtige Jáhoe in die plesiertuin hoor wandel. Toe het hulle in ’n boom in die tuin van die aangesig van Magtige Jáhoe weggekruip.

Magtige Jáhoe het die man geroep. “Waar is jy?” het Hy vir hom gesê.

Die mens het geantwoord, “Toe ons u stem hoor, was ons bang, want ons is kaal. Ons het weggekruip.”

“Wie het jou vertel dat jy kaal is?” het Magtige Jáhoe gevra. “Het jy geëet van die boom waaroor ek jou beveel het, jy kan net eet solank jy nie daarvan eet nie?”

“Die vrou wat u vir my gegee het, het vir my iets van die boom gegee om te eet,” het die mens gesê.

“Wat het jy gedoen?” het Magtige Jáhoe vir die vrou gesê.

“Die slang het my bedrieg,” het sy geantwoord, “en ek het geëet.”

***

Wat ’n nare affêre. ’n Paar oomblikke terug het die mens nog self besluit hulle wil die vrugte eet om soos gode te raak, nou skel iemand hulle en dadelik voel hulle skuldig en probeer die verantwoordelikheid rondskuif. Wat is dit met die mense? Hulle is regtig nes kinders.

Die slang

Augustus 20, 2010

Photobucket

Die slang was slimmer as al die wilde diere wat Magtige Jáhoe gemaak het.

Hy het vir die vrou gesê, “Die Magtige Een het mos gesê julle mag van geen boom in die vreugdetuin eet nie?”

“Van die vrugte van die bome in die tuin kan geëet word,” het die vrou die slang geantwoord, “maar van die vrugte van die boom in die middel van die tuin het die Magtige Een gesê, ‘Julle moenie daarvan eet of daaraan raak nie, anders sal julle sterf’.”

“Julle sal beslis nie sterf nie,” het die slang vir die vrou gesê, “maar die Magtige Een weet op die dag dat julle daarvan eet, sal jul oë oopgaan en julle sal soos gode wees wat die goeie en bose ken.”

Die vrou het gesien dat die boom goeie kos is, die soort waarna die oog smag. Die boom het die dors na wysheid geles.

Sy het van die vrugte geneem en geëet. Sy het ook vir die man by haar gegee en hy het geëet.

Albei se oë is oopgemaak en hulle het besef dat hulle kaal is. Hulle het vyeblare aanmekaargestik en vir hulle klere gemaak.

***

In die New International Version is die opskrif van dié gedeelte “The Fall”. Op Sondagskool het ons dit leer ken as “Die sondeval”. En tog is een van die eerste ding wat mens in die Hebreeuse teks opval die feit dat die woorde “val” en “sondeval” nêrens hier voorkom nie.

Dit sal seker ’n fout wees om oorywerig iets in dié woordjies se afwesigheid in te lees, maar kom ons maak in elkgeval so en kyk wat gebeur:

In aansluiting by wat ons twee inskrywings vroeër gesê het – dit lyk asof Jáhoe nie heeltemal eerlik was oor wat sou gebeur as die mense van die vrugte eet nie. Was hy oorbeskermend? Dit lyk asof hy die waarheid bietjie gerek het ten einde die mense onskuldig te hou – nes liewe ouers dikwels doen.

Vergelyk: Jáhoe het gesê as die mense van die vrugte eet, sal hulle sterf. Die slang het gesê as hulle eet, sal hul oë oopgaan. Die mense eet, hul gaan nie dood nie en hul oë gaan oop. So hulle het Jáhoe uitgevang. Maar is dit ’n goeie ding? Want nou sit hulle met die kennis van goeie en bose.

Wysheidsimbole is oral. Die slang was in die ouer Naby-Oosterse tradisies telkens die simbool vir wysheid – in Egipte byvoorbeeld. En dit is opvallend dat die vrou hier as die protagonis optree wat namens die man besluit hulle moet die vrug eet. Hoekom die vrou? Kan dit wees omdat wysheid in die Nabye Ooste vroulik is?

Daar is baie leidrade dat dit hiergaan oor die pynlike proses waardeur die mens wysheid bekom, leer om hul rug op die vader te draai en vir hulself te dink. ’n Groeiproses, maar ook een wat met pyn en die verlies van onskuld gepaard gaan.

New insight into the disturbing puzzle of our world

Augustus 19, 2010

’n Aanhaling waarmee Karen Armstrong ons op ons pad wil help (uit A short history of myth):

Mythology is not an early attempt at history and does not claim that its tails are objective facts. Like a novel, an opera or a ballet, myth is make-believe; it is a game that transfigures our fragmented, tragic world, and helps us to glimpse new possibilities by asking “what if” – a question which has also provoked some of our most important discoveries in philosophy, science and technology. The Neanderthals who prepared their dead companions for a new life were, perhaps, engaged in the same game of spiritual make-believe that is common to all mythmakers: What if this world were not all that there is? How would this affect our lives – psychologically, practically or socially? Would we become different? More complete? And, if we did find that we were so transformed, would that show that our mythical belief was true in some way, that it was telling us something important about our humanity, even though we could not prove this rationally?

Human beings are unique in retaining the capacity for play. Unless they are living in the artificial conditions of captivity, other animals lose their early sense of fun when they encounter the harsh realities of life in the wild. Human adults, however, continue to enjoy playing with different possibilities, and, like children, we go on creating imaginary worlds. In art, liberated from the constraints of reason and logic, we conceive and combine new forms that enrich our lives, and which we believe tell us something important and profoundly “true”. In mythology too, we entertain a hypothesis, bring it to life by means of ritual, act upon it, contemplate its effect upon our lives, and discover that we have achieved new insight into the disturbing puzzle of our world.”

Our modern alienation from myth is unprecendented. In the pre-modern world, mythology was indispensible. It not only helped people to make sense of their lives but also revealed regions of the human mind that would otherwise have remained inaccessible. It was an early form of psychology. The stories of gods or heroes descending through labyrinths and fighting with monsters, brought to light the mysterious workings of the psyche, showing people how to cope with their own interior crises. When Freud and Jung began to chart the modern quest for the soul, they instinctively turned to classical mythology to explain their insights, and gave the old myths a new interpretation.

There was nothing new in this. There is never a single, orthodox version of a myth. As our circumstances change, we need to tell our stories differently in order to bring out their timeless truth.

Die mens se gelyke

Augustus 16, 2010

Photobucket

Magtige Jáhoe het gesê, “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak wat soos hy is.”

En Magtige Jáhoe het uit die stof al die lewende wesens van die veld en al die voëls van die hemel gemaak. Hy het hulle na die mens laat kom om te sien wat noem die mens hulle. Presies dit wat die mens elke lewende wese genoem het, dit was sy naam.

Die mens het na al die mak diere en al die voëls van die hemel en al die diere van die veld geroep, maar hy kon nie vir homself ’n helper soos hy vind nie.

Toe het Magtige Jáhoe ’n diep slaap oor die mens laat val.

Die mens het geslaap. Jáhoe het een van sy ribbes gevat en die vlees onder dit toegemaak. Jáhoe het die rib wat hy uit die mens geneem het tot ’n vrou gevorm.

Hy het haar na die mens gebring en die mens het gesê, “Hierdie ding is ’n been vanuit my gebeentes en vlees vanuit my vlees. Ek noem dit vrou, want sy is vanuit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat. Hy sal aan sy vrou kleef en hulle sal soos een vlees wees.”

Hulle was albei kaal – die man en die vrou – maar hulle was nie skaam nie.

***

Een van my gunsteling stukke in die Hebreeuse Bybel. Ek wens ek kon ’n proefskrif hieroor skryf.

Die teoloog Martin Buber skryf daar is drie tipes verhouding wat in die Hebreeuse Bybel ter sprake kom:

(a) Ek-U-verhoudings, oftewel die verhoudings van die mens tot die heilige (in dié geval Jáhoe)

(b) Ek-jy-verhoudings, oftewel die verhoudings van een mens tot ’n ander

(c) Ek-dit-verhoudings, oftewel die verhoudings van die mens tot die neutrale wêreld

Die vraag is, waar pas diere in? In die eerste skeppingsverhaal (P se verhaal wat in Genesis 1 opgeteken is) is diere deel van klas c – hulle word soos die rotse en die see en die gras op die eerste dae geskape. Maar in die Jáhoe-tekste gebeur iets anders, Jáhoe skep diere as potensiële gelykes vir die mens (klas b). Jáhoe maak die diere met die bedoeling dat die mens een “soos hy” onder hulle sal vind.

Wanneer die mens besluit dat hy nie ’n gelyke onder die diere kan vind nie, is dit ’n besluit van die mens se kant af eerder as van Jáhoe. Sien ons hier ’n argument teen die mistasting dat diere objekte is? Skimp die skrywer dat mense hul rug op die skeppingsorde keer deur nie God se beeld in die diereryk ook te sien nie?

Ek dink daar moet ’n teologie van die diepte-ekologie ontstaan.

Iets oor die mens se woorde aan die einde. Dit is duidelik dat hy die man en vrou se “een-vlees-wording” nie as ’n goddelike opdrag sien nie, maar bloot as ’n beskrywing van die situasie soos hy dit kom kry. Mense wat iets normatief in dié uitspraak inlees, vat ’n vet kans.

(Die arme vrou is ’n sekondêre maaksel in dié deel van die teks. Mens kan nie daar verbykom nie. Die Jáhoe-tekste het in ’n manswêreld ontstaan.)

Jáhoe is op Facebook

Augustus 16, 2010

Die Jáhoe-projek het ‘n groep op Facebook. Klik hier om dit te besoek en aan te sluit. Jy kan vertalings voorstel of jou eie vertalings aanbied.