Jáhoe se opdrag

Augustus 16, 2010

Photobucket
 

Magtige Jáhoe het die mens opgetel en hom in die vreugdetuin neergesit om dit te bewerk en te onderhou.

Magtige Jáhoe het die mens beveel, “Eet van al die bome van die tuin, maar van die boom van kennis van die goeie en bose – moenie daarvan eet nie, want op die dag dat jy daarvan eet, sal jy beslis sterf.”

***

Tradisioneel word Jáhoe se opdrag ook in vertalings afgesluit met “op die dag dat jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf”. Dit is so – Jáhoe plaas ekstra klem op die sterf.

Hoekom wil Jáhoe nie hê die mens moet van die kennis van goed en kwaad eet nie? Hy wil blykbaar nie hê mense moet dié kennis bekom nie? Ek wonder hoekom. Dalk is dit Jáhoe wat soos ’n ouer is vir die mens – ek het die afgelope naweek weer gehoor van mense wat kla oor die goed wat in die koerant staan, want “wat as die kinders dit lees?” Helaas gaan Jáhoe kort voor lank leer wat ouers oraloor besef – dat jy nie regtig kinders van die kennis van goed en kwaad kan weghou nie.

Dalk is die verhaal van Jáhoe, die mens en die vrugte ’n universele verhaal oor grootword, hoe ons uiteindelik moet leer om vir onsself te besluit. Alle ouers leer dit, Jáhoe leer dit ook. En soos altyd sal grootword hier ook met pyn gepaard gaan.

Maar ek loop die storie vooruit.

Advertisements

Die ontstaan van die lande

Augustus 13, 2010

Photobucket

’n Rivier het uit die aarde ontspring om die vreugdetuin nat te lei. Van daar het dit in vier verdeel.

Die naam van die eerste deel is Pisjon; dit loop rondom die hele land van Habila, waar daar goud is. Die goud van daardie land is goed. Daar is boomgom en edelgesteentes.

Die naam van die tweede rivier is Gihon; dit loop rondom die hele land van Kus.

Die naam van die Derde Rivier is Tigris; dit loop langs die ooste van Assirië.

Die vierde rivier is die Eufraat.

***

 Hoe gou en hoe belangrik is die ontstaan van die riviere nie vir die skrywer nie. Riviere was die belangrikste ding in sy wêreld.

Dit is opvallend dat Jáhoe nie by hierdie deel van die aarde se ontstaan betrokke is nie. Waar hy die aarde, die plante en die mens gemaak het, neem die natuur nou sy eie gang, ’n rivier ontspring (onoorganklike werkwoord) en verdeel die aarde in vier. Jáhoe sit nie agter dié verdelings nie. Dit is nogal interessant – want in die E-narratief skep Elohim juis deur te verdeel – die waters bo die gewelf vs die water daaronder, die dag en die nag, die verskillende klasse diere. Jáhoe se wêreld is daarenteen een waar mens en natuur saamwoon en alles deurmekaar beweeg. Skeidings tree telkens eers in nadat Jáhoe klaar is met sy werk.

Ons gaan in die volgende aflewering na die plesiertuin terugkeer. Luister ‘n bietjie Tori Amos se Original Sinsuality ter voorbereiding.

Jáhoe maak die aarde

Augustus 12, 2010

Photobucket

Wat volg is die verhaal van die hemel en die aarde in die skepping van hul dae:

Magtige Jáhoe het die aarde en die hemel gemaak.

Dit was voordat die bossies van die veld op die aarde was en voordat enige van plante van die veld ontspring het, want Magtige Jáhoe het dit nie op die aarde laat reën nie en daar was niemand om die aarde te bewerk nie.

’n Stroompie het vanuit die aarde ontspring en die hele aangesig van die aarde natgelei.

Magtige Jáhoe het die mens gevorm – die stof van die aarde. Hy het die asem van die lewe in sy neusgate geblaas. En die mens was ’n lewende wese.

Magtige Jáhoe het ’n vreugdetuin in die ooste geplant en daar het hy die mens geplaas wat hy gemaak het. En vanuit die aarde het Magtige Jáhoe al die bome laat ontstaan wat die oog vreugde gee. En die kos was goed.

Die boom van die lewe was in die middel van die tuin. Dit was die boom van kennis van die goeie en bose.

***

Jáhoe kry deesdae ’n klem op die a. Dit is maar ’n manier om te probeer keer dat mense te veel klem op die tweede deel van sy naam plaas. Mens spreek dit uit JAhoe, nie JaHOE nie. Dink aan die uitspraak in name soos Benyamin NetanYAhu.

Vergun my: Jáhoe het die bome geskep. “En die kos was goed.” Die skeppingsorde van die Jahwis was ‘n planteryk waar daar geen vleisetery was nie. En dit was goed. Die J-narratief skop af met ’n goeie regverdiging van vegetarisme! Nou hoekom is vegetarisme nie op die tafel in die Christendom en Judaïsme nie?

Ek het besluit om nie elke sin met “En …” te begin nie, al is dit die styl van Ou Hebreeus en al is van die ou vertalings nog so gedoen. Vir die eerste paar reëls klink dit in Afrikaans sjarmant, maar later begin dit te pla. (Ek verwys ook nie hier na Bybelse Hebreeus nie. Die term hinder my nie regtig nie, maar daar is tog ook veel meer as die Bybel in Ou Hebreeus geskryf.)

Die heel laaste sin is ’n raaisel. Dit val sommer net daar uit sonder tweede werkwoord of selfs geimpliseerde tweede werkwoord. Letterlik lei dit as volg: “Die boom van die lewe was in die middel van die tuin en die boom van kennis van goed en bose.” Wat sê die skrywer? Dat die boom van lewe en die boom van kennis van die goeie en bose albei in die middel van die tuin was? Die meeste vertalers vertaal dit so, maar ek sien dit nie in die Hebreeus nie. Daarom het die “was” as ’n geïmpliseerde werkwoord hanteer. Ek weet nie hoe dit die res van die verhaal sal beïnvloed as mense die bome van onderskeidelik lewe, en kennis van goed en bose as dieselfde boom beskou nie. Ons sal sien.