Die slang

Photobucket

Die slang was slimmer as al die wilde diere wat Magtige Jáhoe gemaak het.

Hy het vir die vrou gesê, “Die Magtige Een het mos gesê julle mag van geen boom in die vreugdetuin eet nie?”

“Van die vrugte van die bome in die tuin kan geëet word,” het die vrou die slang geantwoord, “maar van die vrugte van die boom in die middel van die tuin het die Magtige Een gesê, ‘Julle moenie daarvan eet of daaraan raak nie, anders sal julle sterf’.”

“Julle sal beslis nie sterf nie,” het die slang vir die vrou gesê, “maar die Magtige Een weet op die dag dat julle daarvan eet, sal jul oë oopgaan en julle sal soos gode wees wat die goeie en bose ken.”

Die vrou het gesien dat die boom goeie kos is, die soort waarna die oog smag. Die boom het die dors na wysheid geles.

Sy het van die vrugte geneem en geëet. Sy het ook vir die man by haar gegee en hy het geëet.

Albei se oë is oopgemaak en hulle het besef dat hulle kaal is. Hulle het vyeblare aanmekaargestik en vir hulle klere gemaak.

***

In die New International Version is die opskrif van dié gedeelte “The Fall”. Op Sondagskool het ons dit leer ken as “Die sondeval”. En tog is een van die eerste ding wat mens in die Hebreeuse teks opval die feit dat die woorde “val” en “sondeval” nêrens hier voorkom nie.

Dit sal seker ’n fout wees om oorywerig iets in dié woordjies se afwesigheid in te lees, maar kom ons maak in elkgeval so en kyk wat gebeur:

In aansluiting by wat ons twee inskrywings vroeër gesê het – dit lyk asof Jáhoe nie heeltemal eerlik was oor wat sou gebeur as die mense van die vrugte eet nie. Was hy oorbeskermend? Dit lyk asof hy die waarheid bietjie gerek het ten einde die mense onskuldig te hou – nes liewe ouers dikwels doen.

Vergelyk: Jáhoe het gesê as die mense van die vrugte eet, sal hulle sterf. Die slang het gesê as hulle eet, sal hul oë oopgaan. Die mense eet, hul gaan nie dood nie en hul oë gaan oop. So hulle het Jáhoe uitgevang. Maar is dit ’n goeie ding? Want nou sit hulle met die kennis van goeie en bose.

Wysheidsimbole is oral. Die slang was in die ouer Naby-Oosterse tradisies telkens die simbool vir wysheid – in Egipte byvoorbeeld. En dit is opvallend dat die vrou hier as die protagonis optree wat namens die man besluit hulle moet die vrug eet. Hoekom die vrou? Kan dit wees omdat wysheid in die Nabye Ooste vroulik is?

Daar is baie leidrade dat dit hiergaan oor die pynlike proses waardeur die mens wysheid bekom, leer om hul rug op die vader te draai en vir hulself te dink. ’n Groeiproses, maar ook een wat met pyn en die verlies van onskuld gepaard gaan.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s


%d bloggers like this: